‘n Bejaarde egpaar was die slagoffers van ‘n derde plaasaanval in sewe dae in die Wes-Kaap, aldus Agri Wes-Kaap.
Me. Porchia Adams, woordvoerder, sê mnr. Stoffel Stoumann, en sy vrou – albei in hulle tagtigs – is gedurende Donderdagnag (24 November 2011) in hulle huis op hulle plaas op Vredendal aangeval.
Stoumann is met ‘n skerp voorwerp in die arms en bene gewond. Hy is nog in die hospitaal, maar behoort binnekort ontslaan te word. Sy vrou is ongedeerd. Die polisie ondersoek tans die voorval.
Vlaag
Intussen soek die polisie nog na vyf verdagtes wat glo by twee ander aanvalle betrokke was. Mnr. Pieter Loubser en me. Brenda van der Westhuizen is verlede Vrydag (18 November 2011) deur drie mans met byle in hulle huis op ‘n melkplaas naby Malmesbury aangeval.
Maandagaand (21 November 2011) is me. Shirleen Booysen op ‘n plaas naby Grabouw deur twee mans aangeval. Sy het ernstige skietwonde opgedoen.
“Agri Wes-Kaap veroordeel die vlaag plaasaanvalle wat nou regoor die provinsie kop uitsteek ten sterkste. Die vlakke van wetteloosheid in ons land is onaanvaarbaar en kan nie langer geduld word nie”, aldus Adams.
25 November 2011