
Hy het by ’n vergadering van die koringforum in Pretoria gesê die winterreëngebied het van 40% tot 60% van sy gemiddelde reënval gehad. Dit was waarskynlik die vierde droogste winter sedert die 1930’s.
Mnr. Andries Theron, koringboer van Moorreesburg en ook ’n raadslid van die koringforum, het gesê dit is die derde seisoen uit vyf produksiejare wat weens klimaatsomstandighede ongunstig verloop het.
“Ek boer nou al 35 jaar. In die eerste 30 jaar het ek net drie keer onder-gemiddelde oeste gehad. In die afgelope vyf jaar is hierdie nou my derde totale misoes.
“As ons vir mekaar sê klimaatsverandering is ’n werklikheid, dan moet ons ons navorsing herbeplan met die oog op die toekoms. Daar is proewe op my plaas en ek kan sien die korter groeiers presteer nou beter, maar in ’n gemiddelde jaar presteer die langer groeiers beter. Ek weet daarom nie waarop ons klem moet wees nie.”
Hy het gesê in die Wes-Kaap gaan ’n aansienlike hoeveelheid hektare verlore waarop altyd koring geplant is. “Daar is geen manier waarop finansiers kan voortgaan om gebiede te finansier wat drie misoeste in vyf jaar het nie. In die noordelike dele van die Swartland en die suidelike deel van die Suid-Kaap gaan daar dele wees waar nie meer graan geplant kan word nie.”
Hy het gesê dieselfde neiging kom ook in die Vrystaat voor. “In die Fouriesburg-omgewing praat ons van opbrengste van hoogstens 1,5 t/ha en ons sal gelukkig wees as dit die gemiddelde in die Wes-Kaap ook is.”
Intussen sê Graan SA hoewel meer hektare in die Wes-Kaap beplant is, het die produksie op ’n jaargrondslag met 208 000 ton gedaal.
Groot kommer
Dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en -bemarking, sê Graan SA is baie bekommerd oor die finansiële posisie van produsente gegewe die impak van die droogte. “Die daling in opbrengste plaas finansiële druk op produsente weens die prys wat op invoerpariteitvlakke nie hiervoor voorsiening maak nie. Die druk word verder verhoog gegewe die reeds hoë oorlaatskuldvlakke.”
Strydom het gesê ook by garsproduksie heers groot kommer aangesien ’n groot persentasie van die gars wat gelewer is, se stikstofvlakke te hoog was vir moutgradering. Dus word dit teen ’n laer prys as voergraad bemark. Dit is regstreeks gekoppel aan weersomstandighede wat ’n invloed op gehalte gehad het.
“Wel ’n ligpunt vir die seisoen is die nuwe graderingspesifikasies wat deur die koringbedryf ingestel is. Binne die koringmark is ’n groot aantal lewerings wat binne die nuwe supergraad-spesifikasie val as gevolg van hoë proteïenvlakke, wat gevolglik aan produsente ’n premie van 2% bo Safexpryse vir die koring laat verdien.
“Dit bied wel bietjie ondersteuning in die droë tydperk en Graan SA is dankbaar dat boere dié voordeel wel kan benut.”Volgens die derde oesskatting van die Nasionale Oessakattingskomitee het die produksie van koring gedaal vanaf 1,86 miljoen ton in 2018 tot 1,69 miljoen ton in 2019.
Strydom het gesê ten opsigte van droogtes is daar minimale hulp uit finansieringstrukture wat graanboere spesifiek bystaan. “Dit toon weereens hoe belangrik hulp ten opsigte van oesversekering vir boere is. Dit kan hul voortbestaan in die moeilike klimaatsiklusse verseker as hulle hul finansiële verpligtinge kan nakom.”