
“Met 23 werknemers was dit die moeilikste, maar ook die maklikste besluit om te maak. Ons sal die boerdery aan die gang hou, kom wat wil. Ons sal doen wat ons moet om te oorleef.” Só sê mnr. Warren Bright, ’n boer van die Sedgefield-omgewing wat sowat 80% van sy plaas in Junie se wegholbrande in dié omgewing sien afbrand het.
Al hulle geboue, toerusting, implemente en hul trekker, sowel as die meeste van hul oes, is in puin gelê. Produksie, en die boerdery, veg tans voort met ’n geleende trekker. “Ons het besluit om uit te reik en vir hulp van soveel mense as moontlik te vra om ons by te staan om weer op ons voete te kom sodat niemand hul werk weens hierdie verwoesting verloor nie,” sê hy.
In 2016 het die plaas 16 ton bloubessies geoes, waarvan vyf ton na Brittanje uitgevoer is, agt ton na die plaaslike mark gegaan het en drie ton vir gevriesde produkte gebruik is. “Gedurende dié seisoen het ons op ons piek 35 seisoenale werkers gehuur om die bessies te help pluk, en nog 12 tydelike werkers om die jonger plantjies voor te berei vir uitplant uit ons kwekery. Vir 2017 het ons verwag om 30 ton te oes, maar die brande beteken nou ons sal na verwagting ’n verlies van sowat R3 miljoen sien.”
Van uitbreding tot verwoesting
Warren en sy vrou, Marna, het 12 jaar gelede hul plaas, Blue Pepper in Elandskraal op die Tuinroete, van die grond af begin opbou en verbou bloubessies op 16 ha, met ’n uitbreiding van nog twee hektaar in die visier.
“Die boerdery het met net twee permanente personeellede begin en ons het saam die besigheid en permanente personeellede tot 23 gegroei. Elkeen van hulle is deel van ons familie. Mnr. Rico Hardnick, ons eerste werknemer, is vandag steeds by ons en is uiteindelik die ruggraat van ons boerdery. Ons sou nie gekom het tot waar ons is sonder sy, en almal anders, se harde werk en ondersteuning nie,” sê Warren.
Verlede jaar was ’n goeie jaar vir Blue Pepper en die Brights het besluit om hul besigheid na die volgende vlak te neem deur mnr. Charles Groves, voormalig die hoof uitvoerende beampte van Amathole Berries in die Oos-Kaap, aan te stel. Net twee maande nadat hy en sy gesin na Sedgefield verhuis het, het die tragedie paasgevind. Die verwoestende wegholbrande het onder meer die lewens van die Brights se bure ge-eis toe dit onbeheersd deur hul omgewing versprei het.
Meer oor Blue Pepper
Die boerdery verbou vyf bloubessie-kultivars - die Misty, Legacy, Sharp Blue, O’Neal en Powder Blue – en verkry tans twee nuwe kultivars, genaamd die Star en Biloxi. Die plante groei in ’n oop veld en maak gebruik van ’n drup-besproeiingstelsel.
Die boerdery is ook in 2016 GlobalGap-gesertifiseerd. Bloubessiebosse neem tussen drie en vyf jaar om te herstel van ernstige skade soos deur die brande aangerig.
Kontak me. Christine Crossley by christine@mealsonwheels.org.za asseblief vir meer inligting en om bystand te verleen.
As jy Blue Pepper direk wil bystaan kan skenkings na Meals on Wheels Community Services – Suid-Afrika (MOWCS SA) se bankrekening gemaak word.
Gebruik asseblief die woord Landbou as jou verwysing.
Rekeningnaam: Meals on Wheels Community Services
Bank: ABSA
Tak: Brandwag
Rekeningnommer: 407 623 6605
Takkode: 632 005
Stuur asseblief ’n epos met jou bewys van deposito na me. Dawn Tyers by dawn@mealsonwheels.org.za indien jy ’n Artikel 18A-sertifikaat benodig.
Foto's: Verskaf