
Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) van Suid-Afrika sien daarna uit om die direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling by sy nasionale kongres op 1 en 2 Junie in Gqeberha te verwelkom.
Mnr. Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, sê die organisasie wil die geleentheid gebruik om mnr. Mooketsa Ramasodi aan belanghebbendes in die wolbedryf voor te stel en knelpunte in die bedryf met hom te bespreek.
“Die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in verskeie provinsies het daartoe gelei dat China ’n tydelike verbod op woluitvoer uit Suid-Afrika geplaas het.
“Die NWKV en ander betrokkenes in die wolwaardeketting sal tydens die besoek ook die protokol rakende woluitvoer na China met Ramasodi bespreek en die departement se dringende en daadwerklike hulp versoek om die mark weer oopgestel te kry.”
Die impak van die suksesvolle transformasieprojek van die NWKV, asook die sektor se behoeftes, sal ook met hom bespreek word.
Die persoonlike bywoning van die direkteur-generaal van landbou beklemtoon die waardigheid van die jaarkongres en wolkwekers hoop op volgehoue samewerking in die toekoms.
Die kongres se tema is: “Terug – na die toekoms.”