
Mnr. Langa Zita, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is geskors.
Landbouweekblad het bevestiging gekry dat Zita weens ‘n administratiewe kwessie geskors is. Me. Palesa Mokomele, woordvoerder van die Landbouminister, me. Tina Joemat-Pettersson, het gesê die skorsing is ‘n “aangeleentheid tussen die Minister en Zita”. Sy wou nie verder uitbrei nie.
Mokomele het wel aangedui dat verdere besonderhede en die duur van die skorsing later openbaar gemaak sal word.
Joemat-Pettersson het al by ‘n paar geleenthede haar frustrasie metg Zita gewys en die afgelope maande was dit duidelik sigbaar dat sy en die DG mekaar nie kon vind oor wat belangrik vir die drie portefeuljes in die departement was nie.
By ’n vergadering van die portefeuljekomitee in Maart het sy dit duidelik aan Zita en die res van die departementele hoofde gestel dat die tyd vir praatjies verby is en dat sigbare optrede nou nodig is. Sy het uitgewys dat as daar na drie jaar niks is om te wys nie, dan was daar geen ontwikkeling nie. “Ontwikkeling kan nie vergelyk word met mooi en spog-voorleggings en dokumente nie.”
‘Geen plan vir die landbou’
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir Landbou, Bosbou en Visserye, meen die skorsing is ’n goeie ding want daar was nie duidelike planne vir die landbou nie. Daar is tans nie ’n tasbare landboubeleid in die land nie. Die direkteur-generaal moes duidelike planne op die tafel gesit het oor wat in die toekoms van landbou te wagte kan wees.
Tussen hom en die landbou-organisasies was daar nie goeie verhoudinge nie, het sy gesê. “Die landbou het stabiliteit nodig.” Nadat hy die Minister se adviseur was en toe daarna aangestel is as die direkteur-generaal, het hy gewys dat hy nie weet wat in die landbou aangaan nie.
Mnr. Salam Abram, ANC-LP, het oor die skorsing gesê dat die kwessie in die belang van dienslewering en die bedryf so spoedig moontlik afgehandel moet word. “Zita het nooit die landbou gedien nie. Hy het ook nooit my briewe oor landboukwessies beantwoord nie,” het Abram gesê.