
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het Vrydag met leiers in die landboubedryf, sowel as voedsel-, vesel- en nie-alkoholiese drankwaardekettings, vergader om die impak van beurtkrag op sakebedrywighede te assesseer, sowel as planne vir die sektor vorentoe te beraam.
Luidens ’n verklaring het bedryfsleiers aan Didiza uiteengesit watter probleme beurtkrag vir besighede en werkers besorg, sowel as die koste wat daarmee gepaard gaan. Hulle het ook die bedreiging vir voedselsekerheid benadruk indien volgehoue beurtkrag op kort kennisgewing plaasvind, sonder gesamentlike strategieë oor hoe om die impak te versag deur noodplanne en voorspelbaarheid.
Die moontlike ontwikkeling van alternatiewe energiebronne binne die sektor is ook ontleed.
Gesamentlike taakspan
Daar is in die vergadering ooreengekom dat Didiza ’n sektortaakspan sal saamstel bestaande uit verteenwoordigers van die regering en energiespesialiste wat deurlopend die impak van beurtkrag in die sektor sal monitor, sowel as die sektor se vermoë om Suid-Afrikaners van veilige, voedsame kos te voorsien.
“Die tegniese werk verbonde daaraan om die finansiële koste (van beurtkrag) te meet, is onderweg en sal help om die sektorstrategie op te stel,” lui die verklaring.
“Die taakspan sal ook kort-, medium- en langtermyn-ingrypings ondersoek om die las van beurtkrag binne die boerdery-, voedsel- vesel-, en (nie alkoholiese) drankwaardekettings te verlig.”
Didiza het luidens die verklaring die struikelblokke wat besighede in die gesig staar erken en sakeleiers bedank vir hul heldhaftige pogings om die land van voedsel te voorsien onder moeilike omstandighede.
“Ondanks die huidige uitdagings, sal die landboubedrywe volhou om die beskikbaarheid van voedsel en vesel te verseker,” het sy gesê.