
Die belangrike rol van die landbousektor om armoede te verminder en wanvoeding hok te slaan is deur me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, uitgelig toe sy deelgeneem het aan die debat op die staatsrede.
Sy het gesê in ’n gemeenskap waar hoër armoedvlakke, ongelykheid en lae ekonomiese groei aan die orde van die dag is, is dit van uiterste belang is om die landbou aan die gang te kry.
In die algemeen is groei in die landbou twee tot drie keer doeltreffender met die verligting van armoede as ’n gelyke hoeveelheid groei wat buite die landbou gegenereer word.
Die voordeel van die landbou bo nie-landbousektore in die vermindering van armoede, is die grootste vir arm gemeenskappe en verdwyn uiteindelik namate lande ryker word.
Sy’t verder uitgewys dat groei in die landbou om armoede te verlig kan uitbrei en ander maatskaplike uitkomste, soos voedselonsekerheid en wanvoeding, kan aanpak.
Dieresiektes
Van die ingrypings waarop die departement sal konsentreer, is die probleme om dieresiektes te bestuur, wat uiters belangrik is vir menslike gesondheid en veilige vleis vir verbruikers. “Die span kenners van die bedryf, akademici en die departement het ons reeds hul voorlopige verslag opgestel oor areas waar verbeter moet word.”
Sy het die moontlikheid genoem van ’n vennootskap vir die ontwikkeling van entstowwe vir diere, sonder om die staatsinstelling, Onderstepoort Biologiese Produkte, se vermoë te belemmer om entstowwe te vervaardig. Dit is nie net belangrik vir die reeds bestaande kommersiële boerdery nie, maar vir baie swart boere wat hul veekudde wil vermeerder en kommersialiseer.
Rakende landbou-uitvoer het sy gesê Suid-Afrika voer die helfte van die produkte wat produseer word, uit. In 2021, ten spyte van probleme by die hawens en onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, het die staat, sakesektor en arbeid saamgewerk om die volgehoue vloei van uitvoerprodukte te verseker. Vir die eerste elf maande het Suid-Afrika se landbou-uitvoer ’n rekordbedrag van $11,5 miljard bereik.
Didiza het gesê die departement is in gesprek met Transnet en die georganiseerde landbou is om die probleem van bottelnekke by hawens op kort termyn op te los en om langtermyn- strategiese ingrypings daar te stel om hawens se doeltreffendheid te verbeter.
Die herbou van die Mkhuze-spoor wat bykans 2 000 kleinskaalse suikerrietboere van die Makhathini-vlakte in staat stel om hul suikerriet per spoor na die Felixtonmeule te vervoer, is voltooi. Die boere het gesukkel om hul produkte te vervoer nadat Tongaat Hulett hul vervoersubsidie weggeneem het.
Sy het gesê werk word gedoen om toegang tot grond vir nuwe swart boere makliker te maak, om werkstoestande vir die werkmag te verbeter en verbyfsekerheid te verseker.