
“Die belangrikheid van eiendomsreg en die risiko’s daaraan verbonde is nou meer as ooit tevore op my radarskerm.” Dit is wat Dr. Rashad Cassim, hoof van navorsing by die Reserwebank en ’n lid van die Monetêre Beleidskomitee, opgemerk het ná ’n vergadering tussen hom, ’n senior beampte van dié bank, mnr. Rowan Walter, en lede van Vrystaat Landbou se dagbestuur.
Cassim en Walter sê hulle was verras oor die verligte houding van die boere wat hulle by Vrystaat Landbou ontmoet het. “Hierdie is een van die eerste groepe met wie ons vergader wat nie net kla nie, maar eintlik moontlike oplossings voorstel, en dis verfrissend,” aldus Cassim.
Cassim het aangedui dat met die ekonomiese groei wat tans verlangsaam, is hulle veral bekommerd oor die hoë vlak van werkloosheid. Derhalwe het hulle vergaderings belê met rolspelers in die landbou-, mynbou- en vervaardigingsektor. Hulle wou bepaal watter kritiese sake hulle onder die land se senior besluitnemers in die Regering en private sektor se aandag kan bring vir ondersteuning om te groei en werksgeleenthede te skep.
Dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou, het aan Cassim en Walters uitgewys dat daar sowat 4200 kommersiële boere in die provinsie is. Meer as die helfte van die plattelandse dorpe in die provinsie se ekonomieë is van die landbou afhanklik, terwyl altesaam 24% van die inwoners afhanklik is van dié sektor.
“As julle ons leiers kan aanmoedig om die negatiewe fokuspunte van buite die ekonomiese sektor op ons bedryf kan beperk, sal dit ons baie help, aangesien sulke faktore ons negatief stem om in ons eie boerderye te belê,” het mnr. Francois Wilken, lid van die dagbestuur, uitgewys.
Mnr. Schalk Pienaar het uitgewys dat eiendomsreg ten alle koste beskerm moet word, en dat opmerkings oor onteiening vermy moet word. Verder moet eiendomsregte aan nuwelingboere asook mense wat in informele nedersettings woonagtig is, toegestaan moet word. “Hoe anders gaan nuwelingboere toegang kry tot finansiering om behoorlik te kan boer?”
Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Vrystaat Landbou, het aan Cassim en Walters uitgewys dat boere en die georganiseerde landbou die visie het om te transformer: “Ons verstaan verandering en verligting is nodig, maar ons het vertroue nodig.”
Cassim het onderneem om die kwessies onder die Regering se aandag te bring en om meer gereeld met Vrystaat Landbou te vergader.