
Die prys van brandstof het drasties in September gestyg, met verdere stygings in Oktober in die vooruitsig. Ongeag die redes hiervoor, is dit ’n dubbele klap vir die landbou en veral saaiboere wat tans lande voorberei vir die nuwe plantseisoen.
Die laer brandstofpryse gedurende strooptyd is gou vergete as die nuwe en hoër dieselprys boere se kontantvloei tref. Die grootste somergraanoes in die geskiedenis het plaaspryse grondwaarts gedruk met heelwat verligting vir die kopers van veral mieliemeel en verbruikers van eetbare olies.
Dalende kosinflasie is welkom uitkoms vir stapelkosafhanklikes, maar nie voldoende om die omvang van armoede en huishoudelike voedselonsekerheid soos blootgelê deur Statistieke Suid-Afrika se onlangse armoedeverslag, te bekamp nie. Kosinflasie bly ook onder druk, veral as gevolg van die proporsionele bydrae wat rooivleis tot die kosmandjie maak.
Dubbele klap
Die dubbele klap vir veral graanboere is dat die inflasieverminderende impak van dalende graanpryse weggevreet word deur ná-plaashek-kostestygings wat hoofsaaklik aan die verbruiker deurgegee word.
Verbruikerspryse bestaan rofweg uit drie komponente, naamlik die plaashekwaarde, die koste tussen die plaashek en die verbruiker se bord en natuurlik die wins wat gepaard gaan met die toevoeging aan die bordkant van die plaashek. Boere is prysnemers en kan bitter min doen om hule pryse te verhoog ten einde voorsiening te maak vir verhoogde kostes.
Die verhoogde dieselprys verminder die plaasprys, maar as die verhoogde dieselprys kosteverhogend is aan die ander kant van die plaashek, betaal die boer daarvoor ook. Weens die prys-onelastiese vraag na die meeste landbouprodukte, word kosteverhogings tussen die plaashek en die verbruiker grootliks deur die twee groepe betaal, maar dikwels disproporsioneel.
Verder lei verhoogde kostes tot hoër verbruikerspryse, wat die verbruiker in ’n tam ekonomie meer koopsku maak. Die nuutste vooruitskattings ten opsigte van die Suid-Afrikaanse ekonomie dui op verwagte groeikoerse wat dwarslat oor die resessie skraap – 0.6% groei, terwyl private verbruiksbesteding ook teen heelwat laer koerse kan groei.
Brandstofpryse slaan verbruikers ook
Die Nasionale Bemarkingsraad het in Mei aangedui dat die produsente-aandeel in die graanverbruikersrand toegeneem het te midde van skerp dalings in plaaspryse. Dit was ’n aanduidig van die omvang van die handel om laer plaashekpryse vinnig aan die verbruiker deur te gee. Dié kostevakansie vir die verbruiker is dalk iets van die verlede. Kortom, die verhoogde brandstofpryse gaan beide kante van die plaashek hard slaan.
Volgens die jongste Voedselprysmonitor (31 Aug 2017) van die Nasionale Bemarkingsraad (NBR) het die stedelike voedselmandjie in Julie R834.43 gekos. Dit was ’n skamele 0.2% minder as die Juniekoste. Die NBR waarsku ook teen die inflasiedruk van sekere komponente van die mandjie, met prysstygings van meer as 10% jaar-op-jaar en die negatiewe impak daarvan op huishoudelike voedselsekerheid.
Verskeie faktore gaan ’n rol speel by kosinflasie, waaronder verhoogde kostes tussen plaashek en verbruiker as gevolg van die verhoogde koste van energie. Wat veral verswarend kan inwerk, is die gevolg van bestaande politieke onsekerheid in Suid-Afrika en die impak daarvan op die wisselkoers.
Groter bestendigheid in lande met surpluskapitaal en verwagte ekonomiese oplewing, plaas opbrengsverwagtinge van moontlike beleggers in ontwikkelende ekonomieë in kategorieë wat nie net kapitaalinvloei negatief kan beïnvloed nie, maar selfs lei tot kapitaalvlug kan lei.
Voedselonsekerheid
Verwagte handelsrekeningoorskotte kan grootliks die gevolg wees van verminderde invoere as gevolg van die stram ekonomie as wat dit uitvoerverwant is. Volgens die NBR het die armste 30% van die bevolking ook kosdeflasie geniet met ’n afname van 1.5% van R6.07 tot R5.98 vir die jaar tot Julie 2017. Dit is betekenisvol omdat inflasie vir hierdie kategorie verbruikers al 20% oorskrei het.
Binne dié mandjie van vyf gewildste produkte – mieliemeel, brood, suiker, melk en tee - was die koste van die broodporsie beduidend hoër as die mieliekomponent. Laasgenoemde hoofsaaklik as gevolg van die skerp daling in mieliepryse.
Wat egter belangrik bly, is die bekostigbaarheid van selfs so min as R6.07 per dag, gegewe dat die verbruikers reeds meer as die helfte van hul besteebare inkomste aan dié vyf items spandeer. Verhoogde brandstofpryse gaan besteebaarheid verder beïnvloed, met nog minder om op kos te spandeer.
Wanneer gekies moet word, daal kos op die prioriteitsleer, want met die beskikbare geld geniet vervoerkoste, koste van verblyf en ander noodsaaklikhede voorrang. Huishoudelike voedselonsekerheid bly dus die wolf voor die deur.
* Dr. Kobus Laubscher is 'n landbou-ekonoom.