
’n Boerderyprojek wat as voorbeeld kan dien hoe grondhervorming in die toekoms kan geskied en waarby alle betrokkenes kan baat vind, is stil-stil in Mpumalanga besig om op dreef te kom.
Die Bosveld Sitrus-groep, een van die grootste sitrusboerderye in die land, het homself bereid verklaar om deel van die proefprojek te wees. Die groep het ’n boerdery wat naby Burgersfort aan die grens van Limpopo en Mpumalanga gekoop is, aangebied vir die beginfase. Die plaas van 650 ha, waarop 80 ha bestaande sitrusboorde is en waarvan sowat 200 ha vir sitrus ontwikkel kan word, is aanvanklik vroeër vanjaar deur Bosveld Sitrus deur normale bankfinansiering gekoop en word reeds bedryf.
Mnr. Piet Smit, besturende direkteur van die Bosveld Sitrus-groep, is deel van ’n taakspan van die Nasionale Landboubemarkingsraad wat op versoek van die Nasionale Beplanningskommissie (NBK), moet kyk na ’n resep om grondhervormingsvoorstelle in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) te laat werk.
Die span moet beslag gee aan die voorstel in die NOP dat 20% van landbougrond in elke distrik herverdeel word met die samewerking van boere, owerhede en die gemeenskap. Rofweg is die resep dat die grond gekoop word met ’n 50% bydrae van die staat.
Boere of ander betrokkenes in die distrik dra die ander 50% by deur ’n langtermynlening van die Land Bank met ’n gunstige rentekoers.
’n Verdere lening teen dieselfde gunstige koerse moet ook aangegaan kan word om ontwikkelinge op die plaas te finansier.
Indien die begunstigde of begunstigdes, wat sonder politieke inmenging gekeur word, met verloop van tyd die kommersiële boere wil uitkoop, staan dit hulle dan vry.
Smit sê die koop van die plaas het vir Bosveld Sitrus ekonomiese sin gemaak omdat hulle wil uitbrei. “Die voorstelle vir die grondhervormingsprojek het nog meer ekonomiese sin gemaak omdat almal kan baat vind deur die staat se bydrae en ’n gunstige lening.
“Daarby kan ons ’n bydrae tot grondhervorming lewer, begunstigdes kan bevoordeel word en daar is die vooruitsig op swart ekonomiese bemagtigingsvoordele vanweë ons betrokkenheid.”
Vir die staat lê die voordeel daarin dat hy geld belê in ’n hervormingsprojek wat reeds werk en die begunstigdes weet hulle word deel van ’n suksesvolle waardeketting.
Smit sê al die prosesse vir onder meer die bepaling van markwaarde, die keuring van begunstigdes en die finansieringsmodelle is uitgewerk en moet nou deur die NBK, die staat en die Land Bank goedgekeur word voor die proses voortgesit kan word. “Intussen gaan die boerdery in elk geval voort as ’n suksesvolle onderneming,” sê hy.