Mnr. Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA, het verlede week tydens Agri Megaweek op Bredasdorp gesê dat rolspelers in die koringbedryf, soos die produsente, kopers, meulenaars en bakkers hierdie probleem nou moet oplos.
“Hierdie onnodige struwelinge is baie moontlik een van die grootste oorsake waarom die produksie van koring in die land so dramaties afgeneem het.” Die probleem is in werklikheid deur die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte geskep, wat voorsiening daarvoor maak dat alle belanghebbendes in die koringbedryf betrek moet word by sake wat die bedryf raak.
Die aanbevelings oor die koringtarief en die toepassing daarvan is ’n aangeleentheid wat die produsente en verbruikers direk raak en dit het niks te doen met die uitwerking en handhawing daarvan op die winsgewendheid van die meulenaars- en bakkersbedryf nie. Daar is beslis ook nie in die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) hiervoor voorsiening gemaak nie.
Die doel van die tarief is om koringprodusente in Suid-Afrika te beskerm teen lae en onbillike internasionale koringpryse wat deur uitvoerlande gesubsidieer word en waarteen plaaslike produsente nie kan meeding nie. Hierdie beleid is na jarelange onderhandeling deur Suid-Afrika binne die WHO beding en goedgekeur gekry vir groter mededingende handel in landbouprodukte.
Die enigste rol wat die meulenaars- en bakkersbedryf speel is om die broodprys te verhoog sodra ’n verhoging in die tarief in werking tree sodat hulle ook die koste hieraan verbonde net so aan die verbruikers kan deurgee. Hulle is prysmakers en die prysnemers soos die produsente nie.
Die vraag ontstaan of hulle ook altyd bereid is om die broodprys weer betyds afwaarts aan te pas wanneer die tarief weer verlaag word, of selfs nie van toepassing is nie. Hulle het wel duidelik gewys dat hulle nie bereid is om die broodprys te verlaag as hulle koring teen laer internasionale pryse as die ooreengekome verwysingsprys, waarvolgens die tarief bereken word, kan invoer nie. Dan lag die meulenaars en die bakkers al die pad bank toe. Spesifiek ook wanneer die Regering so lank sloer met die goedkeurig en afkondiging van die inwerkingstelling van die tarief dat Graan SA onlangs ’n hofbevel moes kry om die staat daartoe te dwing.
Die feite van die saak is dat die meulenaars- en bakkersbedryf, soos feitlik al die ander ekonomiese bedrywe buite die landbou, hulle pryse nog al die jare op hul totale produksiekoste plus ’n winsmarge baseer en alle kostestygings ook net so maklik aan die verbruikers deurgee. Die landboubedrywe wat stapelvoedsel vir die land produseer het na die afskaffing van die beheerde bemarkingstelsel in die tweede helfte van die negentigs geen prysmeganisme meer om hul produksiekoste aan die res voedselketting deur te gee nie en moet dit baie keer self absorbeer.
Die meulenaars- en bakkersbedryf het geen reg om inspraak in die vlak en aanpassings in die koringtarief te hê nie, al beteken dit dat die aangeleentheid selfs verder met die WHO opgeneem moet word. Hulle arrogansie dat daar selfs nie ‘n invoertarief op koring hoef te wees nie verydel die totale doel van die tariefbedeling wat deur Suid-Afrika tydens die onderhandelings binne die WHO beding en aanvaar is. Daarom maak dit ook geen sin dat die betrokke staatsdepartemente in Suid-Afrika wetgewing ingestel het wat teenstrydig is met die tariefbedeling wat beding is.
Die invoertarief behoort tussen die produsente, verbruikers en die Regering onderhandel en beding te word. Dit sal ’n sterker en meer verteenwoordige verbruikersorganisasie vereis om die verbruikers se kant van die saak te kan stel, maar dit het verder niks met die meulenaars- en bakkersbedryf te make nie.
- Fanie Brink is ’n onafhanklike landbou-ekonoom en het meer as 40 jaar ondervinding in die landboubedryf in Suid-Afrika. Hy was van 1988 tot 2006 ‘n senior ekonoom en adjunk-hoofbestuurder: Navorsing & Ontwikkeling by Graan SA en is steeds baie betrokke in die landbou as ‘n landbou-ekonoom, adviseur en mentor.