Daar is baie vooroordele waarmee ons daagliks werk – baie meer as die vyf wat ek reeds in hierdie reeks bespreek het. Sommige is só deel van ons natuur dat ons nie eens agterkom hoe ons optrede in sekere omstandighede reeds vooraf bepaal is nie.
Ten einde as mens te groei, moet ons leer om meer bewus te wees van die impak van vooroordeel en ons optrede daarby aan te pas. Dit is egter dikwels makliker gesê as gedaan.
Ek dink byvoorbeeld nie (meer) mans met groot tatoeërmerke is skollies nie, maar gaan nog sukkel as een van hulle by my dogter kom kuier! Die laaste vooroordele wat ek graag in hierdie reeks wil aanraak, is ons bevestigings- en groepsvooroordeel.