
Die hemelsluise het dié week nie teleurgestel nie en wydverspreide reën het groot verligting gebring.
Dit was veral in Mpumalanga waar planttyd vinnig uitloop en in veestreke, soos die Kalahari, wat ’n buitengewoon droë winter moes deurstaan.
Graan SA sê in sy daaglikse markaanwyser Mpumalanga se planttyd is vertraag weens gebrekkige neerslae vroeër. Dié provinsie se optimale planttyd is tot rondom 15 November. In sommige dele is die lande nou te nat en moet boere wag tot dit eers afdroog voor aanplantings kan vorder.
Mielies in dié provinsie was teen 13 November nog maar tussen 50% en 60% klaar geplant, terwyl min sojabone nog geplant was.
In KwaZulu-Natal het boere ook tot dusver weens te min reën nog maar min geplant. In die noordelike deel van dié provinsie is sowat 60% klaar geplant en in die sentrale deel net sowat 20%.
In die Oos-Vrystaat het wydverspreide reën die afgelope twee weke baie gunstige planttoestande verseker. Boere in die omgewing van Vrede is al byna klaar geplant. By Reitz is sowat 40% van die aanplantings al in die grond.
In die Noordwes-Vrystaat kon boere, wie se optimale planttyd rondom middel November begin, teen vandeesweek danksy wydverspreide neerslae vroeë sonneblomme, sojabone en grondbone begin plant. In Noordwes was teen verlede week egter nog wydverspreide goeie reën nodig voor hul optimale planttyd einde November begin, berig Graan SA.
In die Kalahari het boere breed geglimlag oor die eerste reën in maande. Die dagblad Volksblad berig dat mnr. Jaco Truter van die plaas Pampan buite Upington op 12 November om middernag die eerste keer die seisoen reën gekry het – altesaam 32 mm binne ses uur.