SLYMERIGE PLAAG
Wit slakke is volop in die Suid-Kaap gedurende die somermaande, maar dié seisoen was hulle ’n groot probleem vir graanboere. Mnr. Pietman Uys, wat naby Witsand boer, sê hy het sowat 500 kg/ha, oftewel bykans ’n kwart van sy hele kanola-oes, verloor weens dié indringers wat veral in kalkagtige gebiede voorkom. “Jy kan op ’n land waardeur ’n kalkrif loop, sien hoe hulle gepak sit. Op ander gedeeltes is daar niks.” Hy sê daar is nie ’n chemiese middel om die slakke te bekamp nie en gifstof-agente is radeloos. Boonop het die slakke groot probleme veroorsaak tydens die oesproses omdat hulle nat, slymerige oorblyfsels binne-in die stropers aangepak en onder meer die siwwe verstop het. FOTO: CECIL UYS
Skepe moes die afgelope feestyd sowat 14 dae wag om in die Kaapstadhawe vas te meer weens stormsterk winde. Dit het groot opeenhopings van vragmotors veroorsaak, wat op sy beurt die besprekingstelsel vir aflaai ontwrig het, het mnr. Mike Walwyn, ’n direkteur van die Suid-Afrikaanse vereniging vir vragvervoer, aan FreshPlaza gesê.
’n Kragonderbreking einde Desember en toerustinggebreke het verder bygedra tot agterstande. Een druiwe-uitvoerder het gesê meer druiwe bestem vir die Midde- en Verre Ooste word vanjaar na Durban geneem vir uitvoer.
Vroeër vandeesmaand het die groot sprinkaanplaag in die Karoo en aangrensende binneland tot waarskuwings oor ’n “padveiligheidskrisis” gelei.
Teken in op Landbou.com en kry toegang tot die beste joernalistiek en eksklusiewe produkte.