VRYSKUT-PADBOUERS
Boere en plaaswerkers verbonde aan die Mooiveld-boerevereniging van Wesselsbron het van 2-5 Mei self herstelwerk aan die R505- en R59-pad gedoen. Boere het op eie koste en met hul eie toerusting gruis aangery. Mnr. Jakkals le Roux, lid van die boerevereniging, sê hulle vra al sedert April 2021 net vir die nodige teer om dié paaie te herstel. “Ons kon egter nie langer wag nie, want dit is strooptyd en ons produkte moet vervoer word.” Ertsvragmotors rig groot skade aan die paaie aan, en daar is feitlik geen instandhouding van die staat nie. Die boere wag ook tevergeefs vir ’n ontmoeting met die Vrystaatse premier. FOTO: VERSKAF
Mato Grosso, Brasilië se grootste safrinha- (die tweede aanplanting van die seisoen) mielieproduksiestreek, het sy droogste April in 17 jaar agter die rug met gemiddeld 30 mm reën wat geval het — 70% minder as die tienjaargemiddelde.
Dié deelstaat lewer saam met Goiás en Minas Gerais nagenoeg 60% van die safrinha-mielie-oes, en met die naderende hoogtepunt van die mielies se vogbehoefte het tot 40% van die aanplantings teen vroeg Mei reeds tekens van droogtestremming getoon.
Grain Central berig die moeson het twee weke vroeër as gewoonlik opgehou, en die naderende rypseisoen kan aanplantings verder knou. Dié terugslag kom te midde van ’n groter vraag na Suid-Amerikaanse mielies weens die Russiese inval van Oekraïne.
Teken in op Landbou.com en kry toegang tot die beste joernalistiek en eksklusiewe produkte.