Ondanks kwessies soos bek-en-klouseer en die tam ekonomie het vanjaar se Royalskou in Pietermaritzburg sowat 700 vleisbeeste, skape en bokke van so ver as die Noord-Kaap vir sy vee-afdeling gelok. Streng biosekerheidsmaatreëls is gehandhaaf.
Daar was raskompetisies soos dié van Brahman-beeste en Ile de France- en Hampshire Down-skape, en die beoordeling van lewende slagvee en karkasse. Opleiding oor veeproduksie en skou vir die publiek is ook aangebied.
Die skou, wat weens covid-19 laas in 2019 plaasgevind het, is van 27 Mei tot 5 Junie gehou. Volgens die beskikbare syfers teen druktyd was daar 63 022 besoekers in die eerste sewe dae, vergeleke met 64 172 in die ooreenstemmende tydperk in 2019.