Die Kirkwood-wildsfees en gepaardgaande wildsveiling is einde Junie die eerste keer in twee jaar gehou. Reënweer kon nie ’n demper plaas op die goeie pryse wat behaal is nie. Meer as 500 diere is op die veiling aangebied, met meer as 100 geregistreerde kopers.
Daarvan het ongeveer 60 aanlyn geregistreer, en 50 tot 60 kopers was fisiek teenwoordig. ’n Buffelbul van mnr. Gert Loots van Brandfort het die hoogste prys van R240 000 behaal. Die omset was sowat R5,1 miljoen. “Wat in ons guns getel het, is dat die mark tans baie lewendig is,” sê mnr. Brandon Leer, afslaer.
“Omdat daar ’n tekort aan jagvoorraad is, het dit druk geplaas op die prys van familiegroepe, vroulike diere en troppe. Die troppe moet aangevul word en dus betaal mense meer.”