Meer as 120 kommunale wolboere het vroeër vandeesmaand in die Mhlontlo-munisipaliteit in die Oos-Kaap deelgeneem aan ’n kudde-streekskompetisie by die Tsolo-landboukollege, en meer as 180 diere is ingeskryf. Drie produksie-adviseurs van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) was die beoordelaars.
Die wenners van dié kompetisie en ’n aantal soortgelyke kompetisies elders in die kommunale wolproduksiegebiede ding op 28 Julie mee in ’n interstreekkompetisie.
Mnr. Sibusiso Ndwanya, ’n produksie-adviseur van die NWKV, sê wolgehalte het afgeneem sedert die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in 2019 opgehou het om die genetiese verbeteringskema vir kommunale wolboere, wat in 2002 van stapel gestuur is, te finansier.