Trekkers en werktuie ter waarde van R8 miljoen is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) geskenk vir gebruik deur ’n groep opkomende boere in Noordwes. SAB sê in ’n verklaring die werktuie sal “teen bekostigbare tariewe” aan die boere verhuur word in ’n projek wat deur die landboudienstemaatskappy FarmSol Holdings bestuur word. Danksy die werktuie kan deelnemende boere nou ook sojabone, sonneblomme, koring, kanola en hawer verbou en só hul inkomste diversifiseer, asook voordelige wisselbou met gars en geelmielies beoefen. Altesaam 41 opkomende boere van Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga neem tans deel aan FarmSol se program, wat reeds bygedra het tot die skepping van 50 heeltydse en 224 tydelike poste in die betrokke gebiede. FOTO: VERSKAF
Mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het op 1 Augustus in weerwil van ’n aanbeveling deur die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) alle teenstortingstariewe op hoendervleis vir 12 maande opgeskort.
“In sy besluit het die minister die huidige vinnige styging in voedselpryse in die markte van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie en die res van die wêreld oorweeg, en die groot impak wat dit het, veral op armes.
Dit sluit ook in die impak wat teenstortingstariewe op die prys van hoendervleis as een van die bekostigbaarder bronne van proteïen kan hê,” lui die verklaring. Die plaaslike bedryf het vroeër gesê syfers toon dat verbruikers nie die voordeel van uiters goedkoop ingevoerde hoendervleis op winkelrakke geniet nie.
Teken in op Landbou.com en kry toegang tot die beste joernalistiek en eksklusiewe produkte.