BALERS VIR KATOENBOERE
Danksy twee plaaslik vervaardigde katoenbalers sal kleiner katoenboere van Limpopo en Mpumalanga nie meer katoen met die hand hoef te baal nie, wat hulle stroop- en vervoerkoste sal bespaar. Die departement van wetenskap en innovasie en die agentskap vir tegnologiese innovasie het finansiering aan Katoen SA verskaf om die balers te koop. Met die nuwe kompakte, ronde bale kan boere sowat 73c/kg meer vir hul saadkatoen kry. Van links is mnr. Sibusiso Manana van die agentskap vir tegnologiese innovasie in die landbou, dr. Thabang Bambo van die departement van wetenskap en innovasie, mnre. Mike Ramushu van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Frans Malela, katoenboer, Tertius Schoeman van Katoen SA en Hotu Rantho van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. FOTO: KATOEN SA
Shell en Impact Africa mag nie met klankkanonne vir gas soek langs die Wildekus van Suid-Afrika nie. Regter Selby Mbenenge, Oos-Kaapse regterpresident, het die departement van minerale hulpbronne en energie se toestemming om seismiese ondersoeke langs die kus te doen, tersyde gestel.
Verskeie belangegroepe, onder meer vissersgemeenskappe en nieregeringsorganisasies wat hulle op die klimaat en natuurbewaring toespits, het die saak hof toe geneem. Die hof het bevind daar was nie voldoende konsultasie met die gemeenskappe wat geraak word nie.
Transnet sal hopelik binnekort meer lokomotiewe op sy treinspore hê. ’n Ooreenkoms wat in beginsel deur Transnet en CRRC E-Loco, die plaaslike afdeling van China Railway Rolling Stock Corporation, bereik is, kan help om alle voortslepende wetlike dispute tussen die twee maatskappye aan te pak.
Teken in op Landbou.com en kry toegang tot die beste joernalistiek en eksklusiewe produkte.