Weerstoestande gaan een van die grootste faktore rakende kommoditeitspryse in die medium- en langtermyn wees, aldus Barclay’s Capital.
Me. Sudakshina Unnikrishnan, ‘n verteenwoordiger van dié bankgroep, het op ‘n mediadag gesê dit is duidelik dat die klimaat die afgelope paar jaar verander het en droogtes, vloede en gevolglik swakker oeste in verskeie wêrelddele veroorsaak het.
Unnikrishnan meen dat klimaatsfaktore en die La Niña-weerverskynsel tans veral ‘n invloed op Amerika het. “Sou Amerika dié jaar weer onder droogte of swaar reënval gebuk gaan soos verlede jaar, gaan die wêreld se voorraad beperk bly.”
China se verhoogde aankope
‘n Tweede groot bepalende faktor is bewegings in China en dié land se verhoogde aankope van landbou-kommoditeite. Unnikrishnan sê China se verbruik van sojaboonmeel het van die 2002/’03 geldjaar tot die 2011/’12 geldjaar met amper 140% toegeneem. “Die land was die grootste enkele invoerder van sojabone met sowat 60% van verlede jaar se totale invoere wat na China gegaan het.”
Unnikrishnan sê hoewel kommer bestaan rondom verlangsaming van China se ekonomie in die komende jare, “maar ons verwag nie dat dié land ‘n verswakking in sy ekonomie gaan ervaar nie.” Sy sê die verswakking wat wel kan voorkom, sal van korte duur wees.
Volgens Unnikrishnan is dit duidelik dat China se verbruik van mielies die afgelope paar jaar toeneem. “Voorspellings sal dié land se verbruik van mielies in die medium en langtermyn na verwagting toeneem, veral vir gebruik in veevoer. Dit sal weer ‘n invloed op internasionale pryse hê.”
16 Februarie 2012