Vrugte- en wyndiefstal vanaf vragmotors by verkeersligte in Worcester kos die bedryf nie net baie rande nie, maar boere en vragmotorbestuurders vrees ook vir ’n verlies aan menselewens.
Boere het op Agri Wes-Kaap se streeksvergadering op Worcester gesê hoewel daar steeds groot probleme met vrugtediefstal en die gepaardgaande verkoop daarvan langs die snelweë by De Doorns en Rawsonville is, het ’n nuwe slenter op die R43 (die pad tussen Worcester en Villiersdorp) na vore gekom.
Misdadigers misbruik die voetgangersknoppie om die verkeerslig te laat oorslaan. Dit is bedoel om skoolkinders oor die pad te help. Wanneer vragmotors stilhou, “word dit uit alle oorde bestorm en mense met sakke spring daarteen op”.
Selfs verpakte vrugte moet onder ’n seil toegemaak word, anders word die boonste kartonne gebuit. “Só word ons oes weggedra,” het een van die boere aan die vergadering gesê.
Met die onlangse wyndruifoes het tenkvragmotors ook deurgeloop: Dié vragmotors is met klippe bestook of die krane word oopgedraai wanneer dit by die lig stilhou. Brandblussers en ander los goed word geplunder.
“Aan ons kant is daar die verlies van produkte, maar die grootste verlies gaan die verlies aan menselewens wees wat gely kan word,” het mnr. André Lingenvelder, ’n boer uit die omgewing, gesê.
Vragmotorbestuurders is nou te bang om stil te hou, want hulle vrees om hul veiligheid en is bang hulle word aangerand. Lingenvelder sê die probleem kom al ’n hele paar jaar.
Dit is al onder verskeie gesaghebbers se aandag gebring, maar sigbaarheid van die polisie en verkeerspolisie verbeter nie. “Ons en vervoerkontrakteurs het al self die polisie gebel om te sê daar gaan oor 30 minute ’n vragmotor by die verkeerslig verbygaan, maar daar is geen polisie-sigbaarheid van enige aard nie.”
Boere het gevra dat die verkeerslig veral in vrugtetyd eerder in ’n vierrigting-stopstraat verander word. Hulle meen die oprigting van ’n duikweg sal ook ’n oplossing bied, want dan kan skoolkinders dit gebruik en sal dit nie nodig wees vir ’n verkeerslig nie.
19 April 2011