
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Landboubesigheid, sê ongekende vlakke van globale onsekerheid met ’n gedempte vooruitsig vir groei te midde van verhoogde inflasie, asook bespoedigde beleidsnormalisering het tot die verhoging gelei.
Ernstige kragbeperkings en logistieke probleme wat uitvoerprestasie gekniehalter het, het volgens hom veral ’n demper op plaaslike groei geplaas.
“Hoër rentekoerse beteken natuurlik hoër koste om skuld te diens vir boere in ’n omgewing met verhoogde insetkoste, veral wat die prys van brandstof, kunsmis, insek- en onkruiddoders betref. Die algemene impak is die verkleining van marges in die landbousektor met bedrywe soos die sitrus- en veebedryf wat veral geraak sal word.”
Hy sê die sitrusbedryf het veral ’n moeilike uitvoerseisoen weens swak internasionale pryse en verhoogde logistieke koste. Hoë vraghouerhuur het ook ’n stewige hap uit boere se netto inkomste gevat. “Belanghebbendes in die bedryf dui aan dat meer produsente kan sukkel om gelyk te speel.”
Wat die veebedryf betref, het die pryse van graan- en plantproteïengewasse, wat vir die vervaardiging van voer gebruik word, rekordvlakke bereik. Dit het koste verhoog en produsente se marges weggevreet.
“Terwyl graan- en oliesaadboere steeds met relatief hoë kommoditeitspryse werk, is insetkoste ook hoog. Die afgelope twee seisoene was relatief goed vir graanboere met groot oeste en hoër kommoditeitspryse wat inkomste ’n hupstoot gegee het. Dit word onderstreep deur goeie aankope van masjinerie gedurende die huidige boekjaar wat tot Oktober vanjaar op ’n jaargrondslag met 25% tot 8 074 eenhede toegeneem het.”
Hoër rentekoers kan egter verdere aankope asook die vervanging van masjinerie en toerusting strem. “Nietemin bly die vooruitsig vir die landbousektor optimisties met uitstekende seisoenale omstandighede wat die potensiaal het om nog ’n massiewe oes in die 2022-’23-somergewasseisoen te lewer.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.