Die voorgestelde wetsontwerp oor ’n diensjaar vir veeartse kan teen Maart vanjaar deur die Parlement goedgekeur word, sê die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
Luidens die organisasie se nuusbrief het dr. B.M. Modisane, hoofdirekteur van voedsel- en veeartsdienste by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, aangedui dat die verpligte diensjaar ingestel kan word sodra die wetsontwerp goedgekeur is.
Regulasies en maatreëls rondom die diens sal volgens Modisane teen Junie vanjaar voltooi wees. Hy het op ’n vergadering van die Dieregesondheidsforum aangedui dat die diensjaar moontlik van aanstaande jaar af van krag kan wees.
Vroeër
Intussen het dr. Rebone Moerane, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Veeartsraad, gesê verpligte diens vir veeartse moet voor die goedkeuring van die wetsontwerp toegelaat word.
Hy meen studente wat belang stel, moet toegelaat word om aan loodsprojekte deel te neem om die huidige gapings te help vul. Die wolbedryf het in reaksie daarop voorgestel dat ’n beursskema ontwikkel moet word as vergoeding vir studente in dele waar dienste ontbreek, ontplooi kan word.
Op die vergadering het die forum ook besluit om ’n voorstel te ondersteun dat die departement geld moet probeer kry om veearste reeds al vanjaar vir die verpligte diensjaar aan boord te kry.
Die forum het ook ’n voorstel goedgekeur dat, sodra die Tesourie geld vir die skema goedkeur, briewe aan alle veeartse van die raad gestuur word om hulle te betrek.
Bron: RPO Nuusbrief
28 Februarie 2012