
Die Kabinet het verlede jaar reeds die wysigings op die Wet op Veterinêre en Para-veterinêre Beroepe (Wet 19 van 1982) goedgekeur sodat veeartse verplig sal word om ’n jaar gemeenskapsdiens te verrig. Die wetgewing word nou by die Parlement bespreek.
Die doel van die wysigings is om die tekort aan staatsveeartse, veral in landelike gebiede, die hoof te bied. ’n Belangrike wending is dat beoog word dat studente ses jaar universiteitsopleiding sal kry en die sewende jaar ’n diensjaar sal wees.
Dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, het aan die portefeuljekomitee wat daarmee belas is, gesê dat afgestudeerdes oorsee gaan omdat die toestande en die vergoeding daar baie beter is.
Moontlik in 2014 ingestel
Mulder het aangedui dat die verpligte diensjaar hopelik in 2014 ingestel sal word. “Die studente is gereed. Daar is dié wat gewillig is om volgende jaar al vrywillig met ’n diensjaar te begin.” Die Departement het reeds altesame R80 miljoen vir die vorige en R120 miljoen vir die huidige boekjaar begroot om te verseker dat sy indiensnemingsprogram suksesvol is.
Dr. Botlhe Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en gesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê die verpligte gemeenskapdiens is ’n geskikte teenvoeter vir die migrasie van nuwe veeartse na die buiteland.
“Die kommer oor voedselsekerheid en -veiligheid neem wêreldwyd, insluitende in Suid-Afrika, toe.
Daar word voorsien dat die nuwe veeartse ’n markverwante salaris sal kry en nie net ’n toelaag nie. Die salaris vir staatsveeartse is deur die bank dieselfde.