
Verskillende owerhede het die afgelope week toegeslaan op ’n staatsproefplaas waar ’n groot aantal stoetbeeste vir opkomende boere opsy gesit is.
Lede van ’n veediefstaleenheid en beamptes van die Dierebeskermingsvereniging het op 48 dragtige Drakensberger-stoetkoeie afgekom, wat weens honger en dors gevrek het.
Luidens ’n berig in Beeld is die diere gevind op die Athole-proefplaas naby Ermelo, wat aan Mpumalanga se provinsiale regering behoort. Vyf dooie diere het glo binne sigafstand van die kantore en wooneenhede gelê, terwyl ander diere wat in ’n vleigebied in modder beland het, daar gelos is om te vrek.
Voer
Werkers op die plaas het aan die beamptes gesê hulle het glo al tevergeefs by die bestuur gekla oor probleme met diere se voeding. Daar is glo nie geld om voer vir die diere te koop nie.
Bewerings word gemaak dat van die geld wat vir die proefplaas gebruik moes word, twee jaar gelede vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi gebruik is.
’n Saak van dieremishandeling word ondersoek en volgens ’n kommunikasiebeampte sal die provinsiale departement van landbou ’n dringende ondersoek na die situasie aanvra.
Bron: Beeld.com