Ná die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal (KZN) wil Agri SA met die Regering oor ’n dieregesondheidsforum praat. Luidens ’n verklaring het die uitbreking van die virus verskeie leemtes in veterinêre dienste en infrastruktuur blootgelê.
Agri SA sê weens die situasie beoog hulle om met voorstelle, wat met behulp van verskeie organisasies saamgestel is, die moontlikheid van ’n forum met me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, te bespreek.
“Die dilemmas wat met bek-en-klouseer ondervind word, bied waarskynlik ’n goeie geleentheid om die noodsaak vir beter samewerking tuis te bring en ’n struktuur vir gekoördineerde optrede daar te stel.
"Daarom gee Agri SA met dringendheid aandag daaraan en steun sterk op die samewerking en insette van veebedryfsorganisasies, soos die Rooivleisprodusente-organisasie, die SA Voerkraalvereniging, die Nasionale Wolkwekersvereniging, die Suid-Afrikaanse Varkprodusentevereniging, die Melkprodusente-organisasie en Wildbedryf SA,” sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Die forum
Möller sê daar is groot kommer dat die kwessies wat tot die uitbreking gelei het, nie bevredigend gehanteer word nie. Hy meen die siekte is veroorsaak deur ontoereikende beheer van veebewegings uit endemiese gebiede en hoë getalle vakatures vir staatsveeartse, wat vir regulering verantwoordelik is.
Die verskeie organisasies wat deur die uitbreking geraak word, het Agri SA versoek om sy gewig by ’n bedryfsinisiatief, dié forum, in te gooi. Die forum sal bestaan uit veebedryforganisasies en die nasionale en provinsiale departemente van landbou.
“Sodanige forum kan omsien na infrastruktuurbehoeftes en dienste wat nodig is om diereproduksie in Suid-Afrika doeltreffend te bedryf en aan internasionale gesondheidvereistes te voldoen,” lui die verklaring.
30 Maart 2011