
Veesiektes soos knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte, bloutong, Afrikaperdesiekte en Asiatiese en Afrikarooiwater, bosluisgalsiekte en sweetsiekte neem toe weens die goeie reëns wat oor groot dele van die land uitgesak het en bosluis- en insekgetalle laat styg.
Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA), sê in sy Desemberverslag oor veesiektes wat by veeartse aangemeld is, daar is gelukkig nog geen teken van Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte nie. “Baie diere is egter nog nooit ingeënt nie en daar is dus vatbare veekuddes in baie gebiede,” sê hy. Veral muskiete neem toe en boere moet gou sorg dat hulle hul vee inent. Veeartse kan raad gee.
Hy beklemtoon ook die noodsaaklikheid om vee te merk, omdat identifisering en naspeurbaarheid ’n sleutelrol in suksesvolle diereproduksie speel. Nie net lê diereproduksie se toekoms in voedselsekerheid nie, maar ook in die verskaffing van veilige voedsel aan verbruikers, ’n gesonde, nasionale veestapel en die uitbreiding van plaaslike verkope en uitvoere.
Elke dier in ’n boer se kudde is belangrik ter wille van goeie bestuur. Daarom moet elkeen met ’n goeie oorplaatjie en unieke nommer gemerk word. Teken elke dier se inligting aan. Dan kan die behandeling van elke dier in sy rekord aangebring word. Dit is onder meer belangrik wanneer vee by abattoirs geslag word. Hou ook rekord van behandelings en inentings.
Veesiektes in Desember
Die tabel hieronder aangeheg som die siektes en parasiete wat gedurende Desember by RuVASA se lede aangemeld is, op. Malan sê parasiete se getalle styg wanneer dit baie reën, soos die laaste tyd die geval is. Veral haarwurmbesmettings het veral in die somerreënvalgebiede uitgebreek en veevrektes kom voor. Vra raad by ’n veearts.
Bosluise neem ook toe en ál meer gevalle van bosluisgedraagde siektes soos Afrika- en Asiatiese rooiwater, hartwater, bosluisgalsiekte en knopvelsiekte kom voor. Inenting kan dit voorkom.
Menige siekte word deur insekte oorgedra en boere moet veral skape teen Slenkdalkoors inent. Weens die milde reën is daar oral panne water waar muskiete uitbroei, wat die draers van Slenkdalkoorsvirus is. Op hul beurt dra muggies, wat ook toeneem, bloutongvirusse.
Hy sê daar is nog steeds nie ’n afname in geslagsiektes by vee nie. Boere behoort biosekerheidsmaatreëls toe te pas en nou met veeartse saam te werk om dit hok te slaan. RuVASA se verslag word maandeliks opgestel uit inligting wat van veeartspraktyke ontvang word.
Die doel is om boere in te lig oor die voorkoms van siektes, maar veral om siektes wat in hul gebied voorkom of kan voorkom, voorkomend te bestry en te let op diere wat met siektes en parasiete ingekoop word.