Met die dieselpryswat vandeesweek met 47c per liter styg, word dié brandstof R517 miljoen duurder vir die landbou, sê Agri SA.
Mnr. Dawie Maree, landbou-ekonoom by die organisasie, sê vir elke een sent wat die dieselprys styg, neem die koste vir die totale bedryf met R11 miljoen toe.
“Hierdie styging is ’n groot finansiële terugslag vir boere. Produsente se winsgewendheid is reeds onder druk weens die koste van al die produksiemiddele wat styg, maar produsentepryse is traag om te styg,” verduidelik Maree.
Maree sê hoewel dit nie vreemd is dat dieselpryse tydens die winter in die Noordelike Halfrond styg nie, is dié styging hoog. “Die internasionale vraag is redelik hoog weens die Noordelike Halfrond se winter. Dié lande se vraag is blykbaar nou hoër omdat ’n redelik koue winter verwag word en diesel word gebruik vir verhitting, ens.”
Plaasbedrywighede
Volgens Maree sal dié styging ’n groot impak op plaasbedrywighede en boere se kontantvloei vir dié tyd van die jaar hê. Hy sê dit moet in ag geneem word dat boere benewens die ekstra uitgawes wat dié styging gaan veroorsaak, steeds hul gewone uitgawes moet betaal.
“Boere wat nog besig is met ploeg en plant (veral in die westelike graangebiede) moet dalk hul bewerkingspraktyke heroorweeg. Of boere besnoei aan ander uitgawes om vir die duurder diesel te vergoed,” sê Maree.
Wat dieselpryse in Januarie aanstaande jaar betref, sê Maree dit is tans uiters moeilik om te voorspel wat gaan gebeur. Dit sal afhang van die rand-dollar-wisselkoers, die internasionale olieprys en die gevolge van die Europese probleme waaroor die wêreld tans asem ophou.
5 Desember 2011