
Die departement van minerale bronne en energie het die daling in pryse van internasionale petroleumprodukte, wat ruoliepryse insluit, hierdie week luidens ’n verklaring verwelkom. Die prys van Brent-ruolie was op Maandag 25 Julie sowat $105 per vat, wat 10% minder is teenoor die gemiddelde prys vir Junie.
Luidens die verklaring sal die regering se 75c-verligting op die algemene brandstofheffing op 2 Augustus verstryk, maar sal brandstofpryse aansienlik verminder word. ’n Amptelike aankondiging hieroor word teen die einde van die week verwag.
Die departement het ook aangedui dat ’n konsultasieproses van stapel gestuur is oor die instelling van ’n prysbeperking vir 93 oktaan-petrol.
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Agribesigheid, sê die departement se onverwagse verklaring dui daarop dat goeie nuus verwag kan word wat brandstofpryse betref. Dit hang egter af of die regering besluit om van die verligting wat die afgelope maande toegestaan is, terug te win. “Ons stem egter saam dat ’n noemenswaardige prysvermindering ’n moontlikheid is.”
Hy meen die prysbeperking op 93 oktaan-petrol sal gunstig wees aangesien dit mededingendheid in die mark sal bevorder. “Dit is reeds die geval vir diesel en bied aan verbruikers die opsie om te kies waar hulle diesel wil koop.”