
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê teen die middel van die maand was daar ’n oorverhaling van R1,95/liter op petrol en R3,30/liter op diesel.
“As die dieselprys met R3,30/liter verlaag word, sal dit baie vir produsente beteken. Ons weet dit is ’n laat seisoen. Veral sonneblom- en mielieboere in die westelike saaigebiede sal waarskynlik nog besig wees om te plant.
“Die grootste gedeelte van aanplantings sal egter teen dan afgehandel wees. ’n Prysverlaging sal nie so betekenisvol vir boere in die oostelike saaigebiede wees nie. Gedurende Februarie moet verdere toedienings egter gedoen word en dan sal alle produsente weer by ’n laer prys baat vind.”
Hy meen boere kan dit oorweeg om hul dieselbestellings só te plaas dat hulle voordeel uit die laer prys kan trek en sodoende op insetkoste kan bespaar.
Die beste nuus is egter vir die verbruikers. “Daar was gedurende Desember ’n verlaging in die dieselprys. Indien daar nog ’n verlaging in Januarie is, sal dit gunstig vir verwagtinge rondom voedselprysinflasie wees aangesien die meeste voedsel padlangs vervoer word.”
Goedkoper brandstofpryse kan volgens hom ook ’n demper op stygende rentekoerse plaas.
“Ons hou dus duim vas dat hierdie neiging sal voortduur. Daar is natuurlik ’n paar faktore wat in ag geneem moet word. Die wisselkoers het slegs ’n skamele 17c tot die verlaging bygedra en is in hierdie stadium baie wisselvallig. Ons staan aan die vooraand van die ANC se verkiesingskonferensie. Wat daar gaan gebeur, kan ’n invloed op die wisselkoers hê.”
As die wisselkoers terugkeer na R17,80 tot R18 teenoor die dollar, kan dit die daling in brandstofpryse in die wiele ry.
Die beweging in internasionale pryse van Brent-ruolie is volgens Maree baie gunstig. Dit sal hopelik voortduur en volgende jaar verligting by die pompe verseker.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.