Ekonome voorspel dat diesel- en petrolpryse in Oktober op dieselfde vlakke as tans gaan beweeg.
Mnr. Dawie Roodt, ‘n ekonoom vir die Efficient-groep, sê hy verwag nie dat brandstofpryse gaan styg of daal in Oktober nie. “Dit kan dalk met een sent op of af beweeg, maar in dié stadium dui September se syfers nie op ‘n styging of daling vir Oktober nie.”
Wisselkoers op ‘n baie goeie vlak
Roodt sê die rand/dollar-wisselkoers is die sterkste wat dit in jare was, en dít kanselleer die stygende internasionale olieprys uit. “Die rand verhandel vandag (15 September) op R7,09 teen die dollar. Dis ‘n fantastiese wisselkoers, en beteken al het die olieprys na $79 per vat gestyg, dit nie ‘n invloed op plaaslike pryse het nie.”
Die departement het aan die begin van September aangekondig dat diesel vandeesmaand tot 2c/liter duurder gaan wees, terwyl die prys van petrol met 10c/l gedaal het. Volgens die Sentrale Energiefonds se webtuiste se daaglikse brandstofprysindeks kan petrolpryse in Oktober met sowat 3c/liter styg, terwyl diesel 0,5c/liter duurder kan wees.
16 September 2010