Ná die dieselprys vandeesmaand met sowat 30c gestyg het, word nog ‘n verhoging van 30cin Maart verwag, sê mnr. Dawie Roodt, senior ekonoom van Efficient-groep.
Roodt sê die petrolprys kan in die komende maand met sowat 35c per liter styg. Volgens Roodt het die internasionale olieprys in die eerste twee weke van Februarie tussen $95 en $103 per vat gewissel, terwyl die rand/dollar wisselkoers tussen R7 en R7,30 beweeg het.
“Ek verwag nie dat dié syfer aansienlik gaan verander tot die einde van die maand nie. Die olieprys gaan egter nie juis sak later in die jaar nie, en ek voorspel dat ‘n vat olie teen die einde van die jaar tussen $110 en $120 kan wees,” verduidelik Roodt.
Egipte se invloed?
Roodt sê die onrus en geweld wat die afgelope weke in Egipte voorgekom het, het ‘n invloed op die internasionale olieprys, maar ook op die rand se waarde teenoor die dollar gehad.
“Egipte het ook ‘n opkomende ekonomie, en die situasie daar het ‘n invloed op alle opkomende ekonomieë gehad.” Verdere bydraende faktore tot die stygende oliepryse is die koue winter in Europa en Amerika wat die vraag na olie laat toeneem.
Roodt meen egter die goeie groei wat die Japanese en Chinese ekonomieë toon, het ook ‘n invloed op die vraag na olie aangesien hulle al hoe meer olie verbruik.
14 Februarie 2011