
Hyundai se gewilde Tucson-sportnutsvoertuig (SNV), wat sedert sy bekendstelling vroeër vanjaar slegs met petrolenjins beskikbaar was, spog voortaan ook met twee dieselenjins.
Sowat 600 Tucsons kry elke maand nuwe base, wat dit loshande die gewildste SNV in Suid-Afrika maak. Die twee nuwe diesel-weergawes brei die plaaslike reeks van vyf nou tot sewe modelle uit, wat kopers 'n groter keuse bied en die huidige verkoopsyfer waarskynlik 'n verdere hupstoot sal besorg.
Die eerste turbodiesel-weergawe word aangedryf deur 'n inlyn-viersilinderenjin wat 1,7 l verplaas en aan Euro 6-regulasies vir uitlaatbesoedeling voldoen. Hierdie weergawe (met die Executive-spesifikasievlak) lewer 85 kW-drywing teen 4 000 r/min en die wringkragpiek van 280 Nm word van 1 250 r/min tot 2 750 r/min bereik. Kraglewering word deur 'n sesgang-handratkas na die voorwiele gelei.
Sesgang outomatiese ratkas
Die tweede turbodiesel-weergawe met sy 2.0 l Euro 2-enjin is (net) met die Elite-spesifikasievlak beskikbaar. Dit lewer 131 kW drywing teen 4 000 r/min en 400 Nm se wringkrag tussen 1 750 en 2 750 r/min. 'n Sesgang outomatiese ratkas word ingespan om die krag na die voorwiele te verplaas.
Die Tucson-reeks se pryse strek van R369 900 vir die 2.0 Nu Premium (handrat) tot R519 900 vir die R2.0 Elite (outomatiese ratkas). Hyundai bied ‘n vervaardigerswaarborg van vyf jaar of 150 000 km, 'n waarborg van sewe jaar of 200 000 km op die aandryfstelsel, 'n diensplan van vyf jaar of 90 000 km asook 'n padbystandsdiens van vyf jaar of 150 000 km.