‘n Dieselprysverhoging van tot 64c per liter in Maart gaan landbou se vervoerkostes met R7,4 miljard op ‘n jaargrondslag verhoog, sê mnr. Dawie Maree, ekonoom vir Agri SA. Luidens ‘n verklaring sê die Departement van Energie die prys van diesel gaan met tussen 63c en 64c per liter styg, terwyl alle grade petrol 43c per liter duurder gaan wees van 2 Maart 2011 af.
Die prys van paraffien gaan met tussen 70c en 94c per liter styg. Die departement skryf die styging aan ‘n hoër internasionale olieprys toe, asook die swakker vertoning van die rand teenoor die dollar. ‘n Gemiddelde wisselkoers van sowat R7,23 is gedurende Februarie teenoor die dollar gehandhaaf.
Baie negatief vir landbou
Maree sê hierdie verhoging gaan baie negatief op die landbousektor reflekteer. “Dit kan vir sommige boere groot probleme veroorsaak, veral as 'n mens dink aan dié wat tans deur die vloede en oesverliese geraak word. Dis regtig ‘n taai toffie, en dit kan ook produsente se voornemens ten opsigte van aanplantings (en derhalwe oesgroottes) beïnvloed”.
Versigtig optimisties
Volgens Maree is hulle wel versigtig optimisties wat brandstofpryse in April die jaar betref. “Ons weet dat brandstofpryse dan met ten minste 18c gaan styg na die ekstra belastingheffings wat die week aangekondig is. Tans kry ons egter R1,30 per liter terug vir 80% van die diesel wat verbruik word, en dit kan in April tot R1,45 verhoog word”.
Hy sê die oorverhaling op die brandstofpryse, wat deur die komende maand se oliepryse en die rand se prestasie teenoor die dollar bepaal sal word, moet egter nie uit die oog verloor word nie.
25 Februarie 2011