Die dieselprysstyging van 70,4c per liter wat op Woensdag 6 April in werking gaan tree, gaan die landbou ’n ekstra R700 miljoen per jaar kos. Die Departement van Energie het die afgelope Vrydag bekend gemaak dat die petrolprys met 54c per liter gaan styg en dat diesel tussen 70,4c en 69,4c per liter duurder gaan wees.
Mnr. Dawie Maree, ’n ekonoom van Agri SA, sê brandstof kos die sektor reeds R11 miljard per jaar en dié styging gaan verseker boerderypraktyke beïnvloed.
“Boere mag dit dalk nou oorweeg om minder bewerkings te doen, wat moontlik ’n impak op produksie kan hê. Uiteraard het dit ’n groot koste-invloed en kan boere nie noodwendig hierdie kostestyging afwentel na verbruikers nie. Boere se winsgewendheid gaan dus erg geraak word”.
Maree sê die feit dat kragtariewe ook dié maand styg en hoër watertariewe vandeesmaand intree is glad nie “goeie nuus vir die verbruiker en die boer nie”. “En veral nie vir inflasie nie”.
Regering is “ongevoelig”
Intussen sê mnr. Ben Marais, die voorsitter van TLU SA, hy meen die Regering het só behep geword om die verbruiker met heffings uit te mergel “dat hy ongevoelig geword het vir die probleme wat hy daardeur skep, veral vir die landbou en voedselsekerheid”.
Luidens ’n verklaring vra die organisasie al jare lank dat die rabat wat boere kry, verhoog moet word. Agri SA sê die dieselprys gaan boere finansieël erg knou en, as die prysverhogings saam met die beoogde tolhektariewe in Gauteng in ag geneem word, dit nie meer vir boere lonend is om met sulke hoë pryse te boer nie.
“Daar moet kennis geneem word dat veral boere wat met kontantgewasse, soos groente, boer binnekort nie meer produkte sal kan lewer nie,” waarsku Marais.
’n Voorspelling
Maree verwag nie dat oliepryse en derhalwe brandstofpryse binnekort gaan daal nie: “Ek dink die onstabiliteit in Libië en ander lande gaan eerder die prys opjaag na nuwe hoogtes.”
Mnr. Dawie Roodt, ’n ekonoom van die Efficiënt-groep, stem met Maree saam, en verwag ’n styging in brandstofpryse van tot 20c in Mei 2011.
“Ek dink die ergste is verby, hoewel ek skat dat die olieprys vir die res van die jaar tussen $110 en $120 gaan beweeg. Ek verwag wel dat ons binne die volgende twee maande R10,00 per liter brandstof gaan betaal”.
Roodt sê voorspellings oor die bewegings van die olieprys is baie moeilik, want verskeie veranderlikes speel tans ’n rol. Hy sluit die wêreld se groeiende vraag na energie, die geweld in die Midde-Ooste en die swakker dollar hierby in.
4 April 2011