Die jongste aanpassing aan die mielie-liggingsdifferensiaal gaan boere R90 miljoen spaar, sê Graan SA.
Die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) het Dinsdag (26 April 2011) ’n kennisgewing uitgestuur waarvolgens die differensiaal tot 18,67% verlaag is. Dit kom neer op ’n gemiddelde verlaging van R8 per ton.
Luidens ’n verklaring sê Graan SA hoewel die differensiaal afwaarts aangepas is, is dit steeds baie hoog. Die organisasie het kort ná die aanvanklike aanpassing, wat ’n styging van R36 per ton sou beteken, ’n dringende vergadering met die JSE aangevra omdat die aankondiging tot groot ongelukkigheid gelei het. Ná die vergadering is beter inligting ingewin en is die tweede aanpassing gemaak.
Raadpleeg advieskomitee
Mnr. Jannie de Villiers, die hoof uitvoerende beampte van die organisasie, sê die groot ontevredenheid oor die eerste aanpassing kon voorkom gewees het as die JSE net die organisasie se advieskomitee oor die saak genader het.
Die aanvanklike koste vir boere sou R451 miljoen gewees het. In die lig van die besparing, sê De Villiers: “Dit is waarom produsente ’n organisasie soos Graan SA nodig het.”
Die organisasie is bewus daarvan dat vervoerkoste die afgelope maande aansienlik gestyg het, maar hy meen die liggingsdifferensiaal bly omstrede en hy verwag dat die voortbestaan daarvan in die komende maande weer gedebatteer gaan word.
29 April 2011