Die tyd is ryp om Safex se liggingsdifferensiale af te skaf, meen kenners wat kommentaar gelewer het op die aanpassing en die heraanpassing in die mielie-differensiaal.
Die JSE het die mielie-differensiaal eers met gemiddeld R36 per ton verhoog om vir verhoogde vervoerkoste voorsiening te maak. Hy moes dié aanpassing herbereken en verlaag nadat dit aan die lig gekom het dat die aanvanklike inligting oor die verhouding tussen pad- en spoorvervoer nie reg was nie.
Die nuwe aanpassing kom op ’n gemiddelde verhoging van 18,7% (R28/ton) oor die 192 Safex-leweringspunte neer. Graan SA is erg ontevrede oor die aanvanklike berekening.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof, meen dit is ’n dilemma vir die JSE omdat dit wantroue onder boere skep en meebring dat minder sy produkte gebruik. Ook ander meen die fout was ernstig.
Dr. Anton Lubbe, besturende direkteur van die Graansilo-industrie (GSI), die bedryfsliggaam vir silo-eienaars, het gesê die aanvanklike aanpassing was ’n verkeerde sein wat onnodige emosie, woede en wantroue veroorsaak het. Dié omstredenheid is die jongste in jare lange gevegte oor die differensiale.
De Villiers meen dit kan die finale strooi wees wat die kameel se rug breek. Hy meen ’n soort inligtingstelsel sal in werking gestel moet word om aan boere ’n aanduiding van heersende vervoerkoste te gee voordat hulle met kopers onderhandel.
Lubbe meen ook dit is tyd om die differensiale af te skaf, veral omdat die groot verskil tussen pad- en spoorvervoerkoste die berekening van die differensiale wesenlik van gebied tot gebied verwring. Daarby is die wisselvallige brandstofprys se bydrae tot die differensiaal wesenlik.
Boonop word die differensiaal vir ’n vaste termyn vooruit vasgemaak ten spyte daarvan dat die dieselprys nie dieselfde bly nie. Die Landboubesigheidskamer ondersoek ook weer die kwessie van die differensiale. Dr. John Purchase, besturende direkteur, sê sy raadslede het die saak bespreek, maar nog nie amptelik standpunt ingeneem nie.
Dit is vir die landbou-ondernemings ’n belangrike saak omdat vervoerkoste deesdae so ’n groot rol in winsgewendheid speel – in die hele waardeketting, sê Purchase. Hy meen markspelers steun nie meer soveel op die Safex-differensiale nie en het in ’n groot mate al daarvan begin wegbeweeg.
Sy siening is dat basisverhandeling ’n belangriker kwessie is. “Die punt is dat die basis moet verhandel – of dit nou met of sonder die Safex-differensiale geskied. Die vraag is of die mark dit kan doen.”
9 Mei 2011