
Só het mnr. Han Peters, Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika, op ’n geleentheid Maandag in Boksburg gesê waar die inwerkingstelling van die E-cert-stelsel deur die twee lande gevier is.
Suid-Afrika en Nederland is belangrike handelsvennote, met sowat 60% van Suid-Afrika se vrugte-uitvoer wat volgens Peters deur die Rotterdamhawe gaan, en van daar af ook na bestemmings elders in die EU. Dit beloop R19 miljard per jaar.
Die E-cert-stelsel maak die proses nou vinniger en eenvoudiger. Volgens mnr. Guido Landheer, Nederlandse adjunkminister van landbou, die natuur en voedselgehalte, was die papiergedrewe stelsel tydrowend. Nou word doeltreffendheid verbeter en tyd en hulpbronne bespaar. E-cert maak dit makliker om foute, byvoorbeeld die hoeveelheid van ’n produk, reg te stel.
Volgens hom is daar baie geleenthede om die stelsel verder te ontwikkel, soos vir handel in diereprodukte en die invoer van landboukommoditeite deur Suid-Afrika.
Staat en private sektor werk saam
Die E-cert-stelsel is die gevolg van ’n vennootskap tussen die openbare en private sektor in albei lande. Veral Vrugte Suid-Afrika het ’n groot bydrae gelewer.
Volgens me. Fhumulani Ratshitanga, uitvoerende hoof van Vrugte SA, het die ontwikkelingsproses al in 2014 begin, toe die Europese fitosanitêre vereistes rakende valskodlingmot en swartvlek baie dringend en ingewikkeld vir die sitrusbedryf geraak het.
Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika, een van Vrugte SA se lede, het toe ’n aanlyn platform vir fitosanitêre registrasie begin gebruik.
Die voordele was duidelik en dit is in 2017 deur Vrugte SA herontwerp sodat dit ook in die behoeftes van ander vrugtebedrywe kon voorsien.
In 2017 het Vrugte SA en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ’n diensvlakooreenkoms gesluit vir die ontwikkeling en gebruik van ’n gesentraliseerde dataplatform om die amptelike proses van uitvoer en fitosanitêre sertifisering te ondersteun.
Vroeg in 2018 het die departement Vrugte SA toe aangestel om die E-cert-platform te bou, wat ’n uitbreiding van die vorige ooreenkoms behels het, met die doel om alle papier uit die uitvoersertifiseringsproses te verwyder.
’n Kantoor is in Durban gevestig en personeel is gewerf om aan die projek te werk.
Verlede jaar het die departement en Vrugte SA nóg ’n diensvlakooreenkoms gesluit, dié keer vir die onderhoud, voortdurende stelselverbetering, bevordering, steun en bedryf van die E-cert-stelsel, wat vir die uitvoer- en invoersertifisering van alle plant-, diere- en tuinboukundige produkte, asook vir vis gebruik gaan word.
Volgens Ratshitanga verbeter die E-cert-stelsel voldoening aan en risikobestuur ten opsigte van fitosanitêre vereistes, terwyl dit die departement groter sigbaarheid in die aanbodketting gee.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesê in praktyk is ’n vennootskap tussen die openbare en private sektor nie maklik nie. Dit vereis mense wat vasbeslote is om probleme aan te pak.
“Ek wil vandag vir boere sê ons het ’n instaatstellende omgewing geskep. Dit is baie makliker vir jul produkte om deur die E-cert-stelsel na die Nederlandse mark te gaan, en dit maak ook ons inspekteurs se hande los om aan ander probleme aandag te gee.”
Wyer gebruik van stelsel
Didiza hoop dat Suid-Afrika en Nederland saam kan kyk hoe e-sertifisering handel in Afrika kan vergemaklik, noudat die Afrika-vryhandelsooreenkoms in werking gestel word.
Peters het reeds onlangs gesprek gevoer met ’n senior amptenaar van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, waarvan die lidlande ook in die stelsel belang stel.