
Veeboere moet weer dink oor hoe hulle hul besigheid in die hedendaagse veranderende omstandighede bedryf en hoe hulle met ander kommoditeite kan meeding, sê prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat.
Hy was 'n spreker op die jaarlikse Aldam Vleisbeesskool wat deur die Lewendehawe Registrerende Federasie en Landbouweekblad aangebied word.
Die vraag is veral wat die strategie ná die droogte moet wees. Kuddegetalle is laag en boere sal ‘n paar jaar nodig hê om hul teeldiere se getalle weer op te bou. Die weiding moet herstel. Intussen moet Suid-Afrika rekord-invoere van graan doen.
Duur voer vir nog nege maande hier
Die hoë voerkoste sal nog vir minstens nege maande voortduur. Boonop is die ekonomie in ‘n resessie en verbruikers het nie baie geld om aan voedsel te bestee nie. Rooivleis ding met ander kommoditeite mee, veral goedkoop ingevoerde hoendervleis.
Willemse het boere aangeraai om op hul doelwit as boere te fokus, die boerderyrisiko’s te bestuur en bereid wees “om geld uit kleingeld te maak”.
Hy hoor nie op boerevergaderings dat boere met mekaar praat oor hoe hulle geld uit boerdery kan maak nie. Hulle praat eerder oor gate in die paaie. In Australië is dit anders. Daardie boere maak planne oor hoe hulle met ander vleissoorte kan meeding.
“Dit is noodsaaklik om wins te maak; met ander woord in die huidige omstandighede moet hulle méér uit minder maak. Die verbruiker moet oortuig word om rooivleis te koop,” het hy gesê.