
Danksy die vinnige optrede van personeel by Koelenhof-wynkelder het mnre. Andrew de Vries, besturende direkteur, en Nkolesiko Temela, ’n veiligheidswag, op Vrydag 10 Desember ’n mesaanval deur ’n voormalige tydelike werker oorleef.
Luidens ’n verklaring deur Koelenhof het die verdagte, wat twee weke in die wynkelder se tuine gewerk het, se kontrak op Donderdag 9 Desember verstryk. Hy het die kelder se perseel Vrydagmiddag onregmatig betree en Temela oorrompel. Nadat hy Temela vir die dood agtergelaat het, het hy De Vries aangeval en verskeie kere met ’n mes gesteek.
Koelenhof se personeel het hom onmiddellik te hulp gesnel en die verdagte van De Vries verwyder. Die verdagte is tot met die aankoms van die polisie van Stellenbosch op die perseel gehou.
De Vries en Temela is albei gister geopereer en sterk tans in onderskeidelik Stellenbosch Mediclinic en Cape Gate Mediclinic aan. Hul toestand is luidens die verklaring stabiel, maar hulle is nog in intensiewe sorg.
“Vir die hegte Koelenhof-familie is dit ’n groot skok, maar in dieselfde asem wil ons al ons personeel, wat so saamgestaan het as ’n span om twee mense se lewens te red, uit die diepte van ons harte bedank. Sonder die personeel se vinnige optrede, kon dinge veel erger gewees het,” lui die verklaring.
Sers. Wesley Tigg, polisiewoordvoerder, sê die omstandighede rondom die aanval word ondersoek. Die 23-jarige verdagte sal in die Stellenbosse landdroshof verskyn.