Tiger Brands het op 9 Junie skokgolwe oor die Langeberg-gemeenskap gestuur met sy aankondiging dat hy dié fabriek wil sluit. Dit volg ná bykans twee jaar se gesprekke met onder meer ’n groep van 160 vrugteboere wat aangedui het hulle wil die fabriek koop.
Intussen het inmaakvrugteboere ’n beroep op die regering gedoen om te help keer dat die fabriek gesluit word. Sowat 6 000 plaas- en fabriekswerkers se heil hang van dié fabriek op Ashton af.
Volgens me. Mary-Jane Morifi, hoof van korporatiewe sake en volhoubaarheidsbeampte by Tiger Brands, neem L&AF 250 mense permanent in diens en tydens die spits van die appelkoosseisoen verskaf hy werk aan 4 300 seisoensarbeiders.