
Verkoopsvolumes van Distell se produkte op plaaslike en internasionale markte het ’n toename van 9,9% vir sy portefeulje van wyn, spiritualieë en reg-om-te-drink-produkte (RTD’s) aangeteken. Verder het ’n gunstige wisselkoers bygedra tot ’n omset van R14,2 miljard vir die boekjaar geeïndig Junie vanjaar.
Die maatskappy verduidelik in ’n verklaring ’n eenmalige uitsonderlike betaling van aksynsbelasting het egter sy verdienste geknou. In dié verband moes R297,8 miljoen betaal word, wat gevolg het op die herklassifisering van wynaperatiewe deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).
Op ’n normale grondslag was die maatskappy se wesensverdienste 23,1% meer, met sy bedryfswins wat 19% meer was as die vorige boekjaar. Met die buitengewone betaling weens die herklassifikasie het wesensverdienste met 0,8% tot R969, 9 miljoen gestyg, terwyl bedryfswins met 1,7% tot R1,41 miljard gedaal het.
Gewilde produkte
Van die gewildste verkopers in Distell se portefeulje in dié boekjaar was RTD’s en sider. Mnr. Jan Scannell, besturende direkteur, sê danksy ’n aantal sterk handelsmerke kon die omset toeneem sonder dat marges prysgegee word. Die herverklaarde bruto marge, waarin die buitengewone aksynsvoorsiening buite rekening gelaat is, het van 32,7% in die 2010/’11 boekjaar tot 34,7% in die afgelope boekjaar verbeter.
Volgens Scannell is die maatskappy goed op pad om sy doelwit te bereik om die bydrae van uitvoerverkope tot omset elke jaar te verhoog. Die omset wat buite Suid-Afrika bereik is, op ’n nie-aksynsbetalingsgrondslag, beloop 27,5% van die totale omset, vergeleke met die 26,4% van die vorige boekjaar.
Plaaslike verkope het met 9,6% gestyg, terwyl dié omset met 13,8% tot R10,6 miljard toegeneem het.