
Ondanks een van die ergste droogtes in meer as 100 jaar en skommelende kommoditeitspryse kon OVK in die afgelope boekjaar daarin slaag om sy bruto omset met 9,98% tot R8,65 miljard te verbeter.
Die groepwins van die maatskappy het met 4,81% tot R189,7 miljoen vóór belasting gestyg. Die direksie beveel aan dat ’n dividend van 60 sent per aandeel uitbetaal word. Dit is 5 sent meer as verlede jaar.
Mnr. Gilly Scheepers, voorsitter van die direksie, sê in sy jaarverslag dat die prestasie behaal kon word omdat OVK een van die mees gediversifiseerde landboubesighede in die land met ’n groot geografiese teenwoordigheid is.
“Danksy ’n sterk balansstaat kon heelwat boere wat finansiele teëspoed ervaar het, bystaan word deur middel van verskeie meganismes, soos konsolidasie en oorbruggingsfinansiering.
“ ’n Lojaliteitskorting van R18,9 miljoen is ook gedurende die boekjaar aan boere uitbetaal.”
Aandeelprys
Scheepers sê aangesien daar feitlik geen staatshulp aan kommersiële boere verleen is nie, was sommige aandeelhouers genoodsaak om van hul aandele te verkoop om kop bo water te hou. Dit het meegebring dat die gemiddelde aandeleprys van OVK Beherend en OVK bedryf onderskeidelik matig met 0,96% en 1,32% teruggesak het.
Die prys waarteen aandele tans verhandel (R13,20), is egter ’n aansienlike diskonto op die netto batewaarde, wat op R18,05 per aandeel bereken word. Volgens Scheepers het die swak graanopbrengs en wisselende pryse meegebring dat meulens en voerkrale in die land ook groot verliese getoon het.
Dit sluit intensiewe bedrywe, soos hoenders, varke en melkerye, in. “Die sake-sentiment is nadelig deur die politieke onderstrominge en afgradering van land se ekonomiese status geraak.”
Veselbemarking
OVK het vanjaar 2,5% meer wol en bokhaar bemark, maar die wins in die veselafdeling het met 6,6% gekrimp. Dit word toegeskryf aan laer marges in sy saamverpakkingsafdeling.
“Ons is nietemin deurlopend besig om ons ondersteunings- en tegniese velddienste uit te brei ten einde ons nasionale markaandeel in wol te verhoog,” sê Scheepers.
Met die grootste deel van Lesotho se bokhaarskeersel wat deur OVK bemark word, roem die maatskappy hom daarop dat hy nou die wêreld se grootste bokhaarmakelaar is. Hy hanteer meer as die helfte van die wêreld se totale sybokhaarproduksie.