
Inwoners van die Wes-Kaap, wat die afgelope vier weke gebuk gaan onder talle brande, word gevra om te help met die aanmeld en bekamping van brande in die provinsie.
Dié versoek kom uit die kantoor van mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
Luidens ’n verklaring van die ministerie word hard gewerk om brande onder beheer te bring, maar dié pogings word deur sterk wind belemmer.
“Soos voorspel, is hierdie somer reeds baie moeilik. Toestande is ongunstig met sterk wind en ’n droë omgewing wat vatbaar is vir wegholveldbrande. Brandbestryders werk in moeilike toestande met hoë temperature wat gereeld 40 grade Celcius oorskry,” aldus Bredell.
Help brande bestry
Mnr. Colin Deiner, hoof van rampbestuur in die Wes-Kaap, sê die brande gaan na verwagting in die volgende drie maande voortduur.
Bredell het brandbestryders bedank vir hul werk en die publiek gevra om brande dadelik aan te meld. “Ons het almal se hulp nodig. Brande kan voorkom word, maar indien dit nie moontlik is nie, is vroeë brandwaarskuwings en kommunikasie baie belangrik om brande onder beheer te kry.”
Brande in die Wes-Kaap kan by distriksmunisipaliteite aangemeld word by die volgende nommers:
* Stad Kaapstad, tel. 107 (of tel. 021 480 7700 van ’n selfoon).
* Overberg, tel. 028 425 1690.
* Weskus, tel. 022 433 8700.
* Eden, tel. 044 805 5071.
* Sentrale Karoo, tel. 023 414 2603.
* Kaapse Wynlande, tel. 021 887 4446.