
“Dit was vir my ’n absolute verrassing en ek het baie klein gevoel met die ontvangs van die toekenning,” het dr. Faffa Malan aan Landbou.com, gesê. Hy is vroeër die week as die eerste lid van die Suid-Afrikaanse landbou se Heldesaal ingelyf. Die oorhandiging het by die Africa Agri Tech- (AAT) konferensie in die SunBet arena in Pretoria plaasgevind.
Die toekenning is ontwerp om die ontvanger te vereer vir sy of haar lewenslange betrokkenheid in die landboubedryf. Malan werk reeds 53 jaar as veeaarts. “Ek is baie trots om as veearts vereer te word. Daar was baie mense wat in my lewe ’n rol gespeel en bygedra het tot my dienslewering en ek wil dus hierdie toekenning ook ontvang namens hulle.”
Malan het in Pretoria as veearts gekwalifiseer en daarna vir agt jaar by ’n private veeartspraktyk op Vrede gewerk. Hy is deesdae bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa).
Hy is ook bestuurder by Hoechst in Malelane waar hy verantwoordelik is vir bemarking, produkbestuur en tegniese ondersteuning van Intervet-produkte. Hy is ook ’n aktiewe lid van die bestuurskomitee van die nasionale dieregesondheidsforum waar hy daarna streef om leierskap te verskaf om uitkomste te verseker wat Suid-Afrika as ’n wêreldleier posisioneer ten opsigte van sy dieregesondheidstatus.
“Ek is ook betrokke by African Farming waar ek opkomende klein en groot boere opleiding gee sodat hulle ook suksesvol kan wees in boerdery ten opsigte van veesiektes, teling en reproduksie,” het hy gesê.
Malan het vir Landbou.com en Landbouweekblad bedank vir die platform om as veeaarts-konsultant op te tree en boere só in te lig en op te lei. Hy beantwoord reeds dekades lank lesers se navrae oor dieresiektes deur ’n paneel kundiges op Vra vir Faffa. Hy deel ook sy kennis met die lesers deur insetsels op Landbouweekliks.
Malan het sy deursettingsvermoë bewys deur goeie dienslewering in ’n veld waaroor hy passievol is, selfs toe hy ernstig siek was met die covid-19-virus in 2021. Hy inspireer ander boere om hul passie na te streef ten spyte van die lewe se probleme.
“Hierdie toekenning sien ek as ’n merkwaardige nalatenskap in die landbougemeenskap,” het hy afgesluit.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.