
“In Afrika het boere die vermoë om landbousake van hul eie lande se internasionale politiek te skei en saam te werk,” vertel die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) se nuwe voorsitter, dr. Theo de Jager.
Hy sê om onderlinge samewerking tussen verskillende lande se landbou-organisasies te bewerkstellig is een van die groot uitdagings wat hy in sy ampstermyn van twee jaar by die WLO die hoof gaan moet bied. “Die Mexikaanse boere wil nie met die VSA se boere saamwerk nie, want die Amerikaanse president dreig om ’n muur tussen dié twee lande te bou. Die Russe en die Europiërs grom vir mekaar en die Noord-Amerikaners en Suid-Amerikaners sit nie altyd om dieselfde vuur nie.”
De Jager, ’n ervare onderhandelaar, gaan gemeenskaplike belange tussen sulke lede moet identifiseer en gesprekke fasiliteer wat tot groter eenheid in die wêreldlandbou sal lei. Daar is ook baie lande wie se landbouorganisasies nie aan die WLO behoort nie, veral in Wes-Afrika en die voormalige Oosbloklande. “Ek gaan daardie organisasies moet besoek en hulle intrek om ten einde ’n verteenwoordigende stem vir wêreldlandbou daar te stel.”
Onderhandelinge in die toekoms
Ander kwessies wat vlak in boere regoor die wêreld se gemoed lê is biotegnologie-handelsmaatreëls. Hieroor sê de Jager moet hy baie vinnig baie leer. “Europese boere kan nie sonder markbeskerming bestaan nie, terwyl Nieu-Seeland se boere nie weet wat markbeskerming is nie.”
Europa en groot dele van Afrika het ’n weersin in die blote gedagte van GM-gewasse en Suid-Afrika en die Amerika’s boer baie suksesvol daarmee.” Wat hierdie kwessies betref gaan De Jager se ervaring as bemiddelaar in verskeie landbou- en grond-vraagstukke op die vasteland van Afrika ’n sleutelrol speel.