
Donker wolke hang oor Namibië en die landbou se toekoms, terwyl die land gevaar staan om sy beste genetiese dieremateriaal en die winsgewendheid van sy plase prys te gee.
Só het mnr. Ben Amathila, voormalige kabinetsminister en sedert sy aftrede 'n boer, op 'n landbouvooruitskouingskonferensie in Windhoek gesê.
Namibië beleef een van die grootste droogtes nog en hy hoop iemand het die wysheid van Salomo om te sê die toekoms lyk nog blink.
Steunpilaar van die ekonomie
“Die landbou is die steunpilaar van die ekonomie, maar weens die droogte is boere verplig om goeie teeldiere te slag, omdat hulle nie meer weiding het of geld het om voer mee te koop nie. Dit bring winsgewendheid in gedrang en menige plaasstruktuur dreig om ineen te stort.”
Hy het gesê jong mense het deesdae nie die begeerte om te boer nie. Dus moet die ou boere nóg langer aanhou boer.
Sonlig is gratis
“Weens die onvoorspelbaarheid van boerdery en die weer moet ons nuwe planne maak, soos om sonkrag te gebruik om elektrisiteit op te wek. Sonlig is gratis. Namibië bestee R3 miljard per jaar om elektrisiteit by buurlande te koop. Dit sal 'n groot verskil aan die land maak as daardie bedrag kan verminder deur sonkrag op te wek en die geld eerder in ons eie land te bestee,” het Amathila gesê.
Boere kan ook méér waarde uit die verwydering van indringerbosse put deur braaikole daarvan te maak.