
Sedert mnr. Henk de Beer ’n doodskis aan ’n heiningpaal op sy plaas buite Heidelberg staangemaak het, was daar nog nie weer ’n dief op die plaas nie.
“Ons is moedeloos met die diefstalle. Nes jy die stukkende heiningdraad herstel, word dit afgesteel. In een nag het ons 17 skape verloor. Ons maak voertuie en werktuie reg, dan kom steel hulle die drade van die enjins af of ruk die verkoeler uit om as skroot te verkoop,” vertel De Beer.
Sy skoonpa, mnr. Jan van Zyl, wat op die plaas op die Lagerspoort-pad buite Heidelberg woon, het met die idee vorendag gekom om die doodskis staan te maak by die plek waar die diewe weer die draad geknip het om te kom steel.
“Dis ’n lang storie, maar in ’n stadium het ek doodskiste gemaak. Daar was nog een in die pakhuis hier. Dis toe my skoonpa die werkers vra om dit af te stof en te skuif dat hy agterkom hulle het ’n helse vrees vir die kis. Hulle het botweg geweier om dit aan die paal te help vasmaak.”
Hy en sy skoonpa het die kis toe laatmiddag aan die paal vasgemaak, langs die plek waar die draad die vorige nag wéér geknip is.
“Die volgende oggend staan die polisieman by die kis en neem foto’s. Hy sê: ‘Die kis is disturbing the peace.’ Ek sê: ‘Die diewe is disturbing the peace’, nie die kis nie. Hy sê ek moet dit afhaal, ek sê: ‘Ek sal nie, want ek mag teen my heiningpaal opsit wat ek wil – sê nou ek wil doodskiste adverteer, wat dan?’ Nee, sê hy, hy sal by die higher authority gaan hoor. En dié authority het my gelyk gegee. Die kis staan nog daar en nog niks is sedertdien gesteel nie,” sê De Beer.
Volgens de Beer se vrou, Melissa, het hulle so drie jaar gelede met 400 skape begin boer. Daar is nou 263 en dis net lammers. Daar was 260 bokke, daar is nou 160.
“Die bure dink dis ’n wonderlike idee en ’n paar oorweeg self ’n paar doodskiste. As dit werk, is ek dankbaar, anders maak ons weer ’n ander plan.”
* Die storie word per e-pos rondgestuur. Die skrywer hiervan is onbekend.