
Die wel en wee van die brandslagoffer Pippie Kruger het die verbeelding van die land se Dorpertelers so aangegryp dat hulle die hand diep in die sak gaan steek ten tye van die Dorpertelersgenootskap van Suid-Afrika se nasionale veiling op 1 November vanjaar.
Mnr. Attie Westraad, rasdirekteur, sê ingevolge ’n raadsbesluit kan Dorpertelers op Dinsdag 29 Oktober vrywillig lammers by KLK se slagplaas op Upington lewer vir deelname aan die SA Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) se jaarlikse slaglamkompetisie. Op 31 Oktober word die beoordeling van die karkasse gedoen en die wen-karkasse word op die veiling op Upington bekend gemaak.
Mnr. Dries Wiese, voorsitter van die genootskap, sê die Dorper is allerweë bekend vir die gehalte van sy vel, en derhalwe is ’n skenking aan mnr. Erwin en mev. Anice Kruger, Pippie se ouers, simbolies van die ras en sy uitstaande kenmerke. Hy sê ook die Dorpers oorheers die slaglamkompetisie die afgelope 20 jaar met gehalte-karkasse.
Kruger sal die wentrofee oorhandig en ook die opbrengs van die skenkinglammers ontvang. Klein Pippie sal die geleentheid na verwagting bywoon.
Westraad sê die telers wat nie ’n lamskenking kan maak nie, kan met hom in verbinding tree om ’n donasie te maak wat saam met die opbrengs van die Dorperslaglammers oorhandig sal word. Hy het ook ander boere en telersgenootskappe uitgenooi om aan die projek deel te neem. Navrae kan gerig word aan dorperinfo@adsactive.com of 049 842 2241.
Pippie gaan steeds drie keer per week vir fisio-, spraak- en arbeidsterapie in die rehabilitasie-hospitaal in Aucklandpark en gaan drie keer per week vir behandeling met naalde in Sandton.